Die vermoë om te hoor maak ons “deel” – die bekende aanhaling van Helen Kellar lui dat blindheid ons afsny van dinge en dat gehoor ons afsny van mense.

As ouers deel ons drome waar ons kinders inskakel by die horende wêreld – om deel te wees… veronderstel hierdie drome spat in skerwe na die nuus van ‘n gehoorverlies.

Om gediagnoseer te word met ‘n gehoorverlies hoef geensins meer ‘n negatiewe konnotasie te hê nie.

Oudiologie – die studie van gehoor en gehoorafwykings – is ‘n veld toegewy aan mense met ouditiewe en vestibulêre disfunksies. Oudioloë gebruik gesofistikeerde toerusting om, met akkuraatheid, die tipe probleem te bepaal. Inligting en volgehoue ondersteuning word aan die persoon met gehoorverlies, asook families gebied.

Daar is ‘n verskeidenheid oplossings en uitkomste vir mense met gehoorverlies.

Gehoorapparate soos Signia (Siemens), Oticon, Widex, Unitron en Starkey, om maar net ‘n paar te noem, versterk die gehoordrempels waar die gehoorverlies bevestig is.

Waar gehoorapparate nie effektiewe versterking bied nie, is inplantings ‘n opsie.

Die brein interpreteer klanke wat ons ore hoor, sodat ons die omgewing om ons beter begryp en spraak verstaan.  Die vermoë om te hoor het daarom ‘n direkte impak op ons lewenskwaliteit.

Gehoor stel ons in staat om te leef en te beleef, te kommunikeer, leer en speel. Gehoor verhoog daarom ons lewensondervinding. Verbeel jou die ontbering om weerlig te sien, sonder om die donderslag te hoor.

 

 

‘n Paar interessante feite van die menslike oor:

Die menslike oor se bewustheid van klankgolwe strek van 20Hz tot 20 000 Hz.

Die kleinste beentjies van die hele liggaam word in die middeloor aangetref en word die malleus, incus en stapes genoem.

Die hardste been in die liggaam is die temporale been.

Gehoorverlies raak nie net mense bo 65 nie – ‘n groot persentasie van gehoorverlies word ervaar deur mense jonger as 65.

Die binne oor wat soveel wonders van gehoor insluit is niks groter as ‘n potlood-uitveër nie.

Oorwas beskerm ons ore teen stof en vuilheid.

Geraas bo 70dB oor lang periodes van blootstelling kan jou gehoor beskadig. Harde geraas bo 120dB kan onmiddellike skade veroorsaak.

Die buite-oor hou nooit op groei nie.

Mens kry elke jaar ‘n “nuwe” oorkanaal – die vel in die oorkanaal groei ongeveer 3.30cm elke jaar!

 

Welkom in die wêreld my lieflingkind!

‘n Wêreld vol wonder, soek en vínd.

Hoor jy my stem as ek sag vir jou sing?

‘n Wonder-wêreld van klank wat vreugde bring.

‘n Vrolike neurie wat dra op die wind –

‘n ryke simfonie wat mens en klank verbind.

Luister na die sagte, drup-plas-plof van die reën

wat getuig van liefde en bedekte seën.

‘n Rukwind wat huil en energiek aan ruite pluk –

akkoorde soos vioolsnare wat teen ebbehouttoetse druk.

Jy luister aandagtig, glimlag, pruil en boots na –

ek sien uit na jou woorde en my babbelbekkie se vrae.

Mag jy eendag skaterlag, hartsgeheime koester en luister –

as iemand sag of dringend in jou ore fluister.

Betree die arbeidsmag met ‘n vonkel in die oog en gespitste oor

om nuwe kennis in te win, besigheidstrategieë te hoor;

…. ons aftrede, vir sommige ‘n belewenis, ‘n nuwe seisoen,

om te deel met vriende en geliefdes, kuier, lééf en doen!

Elke fase, elke asemteug geleen,

maar die heel meeste deur almal bejeen,

is die wonder van gehoor; musiek- ‘n engelekoor.

 

Deel die seën en wonder van gehoor met geliefdes hierdie feesgety.

Die wonderwêreld van gehoor bly ’n geskenk